HURK-ULES – ‘N PANTO (info)


As jy mal was oor Hoërskool Randburg se vorige produksie, Ar-Fur, moet jy solank die datums vir die spiksplinternuwe Hurk-ules, wat van 8-10 Mei by die Roodepoortteater op die planke is, in jou dagboek aanteken.  En as jy nie daar was nie, is dit nou die tyd om te kom uitvind waarom hierdie vermaak is wat jy nie mag misloop nie!

Voeg pantomime, ‘n storie oor die manewales van die Griekse gode en die vervaardigers van die baie suksesvolle pantomime, Ar-Fur bymekaar, en jy het ‘n wenresep!

Volgens die skryfster, Berdene Burger is hierdie nuutgeskrewe pantomime geïnspireer deur “Heroes” van Stephen Fry en die film Hercules wat in 1997 deur Walt Disney vrygestel is.

In Hurk-ules word ons gekonfronteer met (of is dit vermaak deur?) die wel en weë van Zeus, die Oppergod en sy uitgebreide familie, Hades, die wraaksugtige heerser van die dooie kus wat graag oor die gode wil regeer en Hurk-ules, die halfgod wat ‘n held moet word voordat hy sy regmatige plek tussen die gode kan inneem.  Dan is daar natuurlik die beeldskone en vurige Megara…..is sy ‘n medewerker van Hades, of is sy dalk verlief op Hurk-ules?  Wie gaan die stryd wen – Hurk of Hades?  Dan is daar nog Narcissus, Eggo, die god van wyn en vrygbaarheid, Dionysus, die wyse Athene, Apollo en vele ander gode…

Kan ons belowe dat ons gaan hou by Griekse musiek?  Wel, Zeus kan dalk net op op ACDC se Thunder sy verskyning maak, Hades beskou homself as King of the Clouds en die gode gee dalk nie om om partytjie te hou op Tonight’s gonna be a good night nie.

Aan teaterskouspel ontbreek die produksie ook nie.  Dis moontlik dat Pegasus, of selfs die bose Cerebus met sy drie koppe op die verhoog kan verskyn.  Dit, natuurlik benewens die skouspelagtige danse, grootse dekor, kleurvolle kostuums, oordadige rekwisiete en skreeusnaakse humor!

Hurk-ules is vermaak vir die hele gesin – moet dit nie misloop nie!

 

Hercules-SM-Poster

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *